SA Stamboek se Geskiedenis

SA Stamboek se Geskiedenis


Sedert Robert Bakewell se pionierswerk ten opsigte van die teling en verbetering van suiwer veerasse in die laat 18de eeu, het opreggeteelde Britse veerasse wêreldwye gewildheid begin geniet en, weens kolonialisering, is die praktyk van stoetteling mettertyd in lande soos die Verenigde State, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika gevestig.

Die Britse besetting van die Kaapkolonie in 1806 was die aanloop tot die vestiging van verskeie Britse veerasse in Suid- Afrika. Daar is egter ook Friesbeeste vanaf Holland ingevoer, en teen 1850 was daar al enkele kuddes opreggeteelde Friesbeeste in Suid-Afrika. Veeboere het al hoe meer bewus geword van die waarde van stoetvee.

Aan die einde van die 19de  eeu het veral skaap- en beestelers begin  besef  dat  daar  ʼn  erfbaarheidsbasis  is  vir  eienskappe van ekonomiese belang en  dat  dit  ʼn belangrike rol  speel in die verbetering van hul vee. Die besef was ook dat dié kennis net benut kan word indien geloofwaardige herkomsregisters bygehou word en dat dit só grootliks kon bydra tot hul pogings tot veeverbetering. Stamboekregisters en die gepaardgaande sertifikate was ʼn waarborg van diere se afkoms en bloedlyne en het  hul  meerderwaardige teling weerspieël. Hierdie  besef het direk aanleiding gegee tot die formele aantekening van stoetvee, en later tot die stigting van telersgenootskappe.

Die SA Landbou-unie  het  in  1903 die  stigting van ʼn  Algemene  Stamboek  vir  Suid-Afrika  ondersteun weens die behoefte om die suiwer geteelde diere van verskeie rasse op daardie stadium in Suid-Afrika, gestruktureerd aan te teken en stambome te bou.
 

Op 15 Augustus 1905 word die SA Stamboekvereniging gevolglik formeel in Bloemfontein gestig tydens ʼn konferensie van die koloniale stoettelersgenootskappe.


Die eerste volume van die SA Stamboek word in 1906 uitgereik met inskrywings vir perde, beeste, skape, varke en bokke. In volume 2, gepubliseer in 1907, word daar voorsiening gemaak vir kuddes van plaaslike rasse wat voor 1905 gevestig is, en word Afrikanerbeeste en Boerperde as suiwer rasse erken en in ʼn Aanvullende stamboek aangeteken.

Die  behoefte  aan  telersgenootskappe  om  die  rol  van  die SA Stamboekvereniging aan  te vul het  vroeg reeds ontstaan. Hierdie  inisiatief het  na  Uniewording  momentum   gekry en het uiteindelik gelei tot die stigting van telersgenootskappe vir Afrikanerbeeste, Shorthorn-beeste en Hackney-perde in 1912, en South Devon-beeste in 1913. Telersgenootskappe vir ander rasse het later gevolg.

Die eerste Stamboekwet is in 1920 (Wet No. 22 van 1920) bekragtig en het ʼn nuwe era vir die stoetbedryf ingelei. Hierdie wet het die SA Stamboekvereniging en sy geaffilieerde telersgenootskappe gevestig as die enigste organisasie wat diere mag aanteken en registreer en stambome en registrasiesertifikate daarvoor mag uitreik.

Na die Tweede Wêreldoorlog brei die SA Stamboekvereniging se werksaamhede heelwat uit en ʼn oplewing in die invoer van stamboekvee uit die buiteland word ervaar.

Dertig  volumes  van  die  SA  Stamboek  is  tussen  1906 en 1953 uitgegee. Daarna is die registrasies en eienaarskappe aangeteken op ʼn indekskaartstelsel wat gebruik is tot die laat 1980s. Uiteindelik,  met  die  aanvang  van  rekenarisering,  het die registrasie en aantekening van diere ontwikkel tot ʼn hoogs gesofistikeerde stelsel wat goed vergelyk met die beste ter wêreld en ook wêreldwyd erkenning geniet.

Die SA Stamboekvereniging was deurlopend betrokke by wysigings aan heersende wetgewing namens sy telersgenootskappe – hoofsaaklik om die belange van stoetveetelers te beskerm en om tred te hou met ontwikkelings in teeltpraktyke. Die wet is byvoorbeeld in 1962 gewysig om voorsiening te maak vir die registrasie van plaaslik-ontwikkelde veerasse, en later weer om voorsiening te maak vir nuwe teeltpraktyke by plaasdiere. In 1977 is die Wet op Veeverbetering (Wet No. 25 van 1977) bekragtig.

In September 1997 het die SA Stamboek- en Diere- verbeteringsvereniging ʼn volle lid van die International Committee  for Animal  Recording (ICAR) geword. In  hierdie tyd was SA Stamboek onder meer, saam met die LNR verantwoordelik vir die bestuur, ontwikkeling en onderhoud van die diereverbeteringsdatabasis, Intergis, wat meer as 50 miljoen diere-rekords bevat. Vroeg in 2007 het SA Stamboek, na ’n inspeksie van sy stelsels en prosedures in 2006, die reg verwerf tot die gebruik van ICAR se spesiale “kwaliteit” seël op sy rekords, sertifikate en ander publikasies.

In 1998 word die Wet op Veeverbetering van 1977 vervang met die Wet op Diereverbetering (Wet No. 62 van 1998). Dit bring mee dat die stoetbedryf grootliks gedereguleer word, asook dat sewe telersgenootskappe in  die tydperk  tussen  1999 en 2004 van SA Stamboek wegbreek en hul eie registrerende owerhede vorm. Die nuwe wet erken ook vir die eerste keer spesies behalwe plaasdiere as ‘diere’ en SA Stamboek raak sodoende betrokke by die registrasie en aantekening van honde en later ook wild.

Tydens die viering van sy 100-jarige bestaan in 2005, het SA Stamboek die steun van 63 telersgenootskappe en nagenoeg 5 000 telers met 520 000 diere geniet.

As deel van ʼn omvattende besigheidsplan wat deur die lede van Stamboek goedgekeur word, word dienste vanaf Januarie 2012 uitgebrei om ook produksie-aantekening en genetiese evaluasies deel te maak van Stamboek se dienste en bied Stamboek sedertdien ‘n volledige een-stop diere-aantekeningsdiens op sy Logix-stelsel aan.

In   2015  het   die   SA  Stamboekvereniging  bestaan   uit   64 telersgenootskappe wat 27 bees-, 15 kleinvee-, 16 perde-  en ses telersgenootskappe vir ander spesies insluit. Behalwe hierdie rasse hanteer  SA Stamboek ook die registrasies van 29 ander rasse, naamlik direkte inskrywingsrasse: klein rasse wat nie ʼn telersgenootskap het nie.

 - C.G. Lee, die eerste president van die SA Stamboekvereniging

C.G. Lee, die eerste president van die SA Stamboekvereniging

 - Pedigree House in Aliwalstraat, Bloemfontein, SA Stamboek se eerste kantoorgebou

Pedigree House in Aliwalstraat, Bloemfontein, SA Stamboek se eerste kantoorgebou

 - Die SA Stamboekgebou in Westdene, Bloemfontein

Die SA Stamboekgebou in Westdene, Bloemfontein

 - Die ererol in die SA Stamboekgebou

Die ererol in die SA Stamboekgebou

© SA Stamboek. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of SA Stamboek.